GEBED-INTERSESSIE
Intersessie beteken om te verteenwoordig, om as tussenganger op te tree. Intersessie gebed is dus `n gebed waar ons vir iemand of namens iemand bid.
Om te bid is God se plan vir sy kinders op aarde; ons gebede is vir hom belangrik in die uitvoering van Sy wil op aarde.
Soos ons reeds gesien het gaan alles oor die God – mens vennootskap. God voorsien die wysheid, krag en rigting - Die mens die liggaam, stem, voete en hande.
Dit begin alles by `n verhouding tussen God en Sy kinders. Om hierdie verhouding te laat groei moet daar goeie kommunikasie wees, `n tweerigtingaksie van praat en aktief luister, God met ons en ons met God.
Hierdie kommunikasie tussen God en die mens het `n orde:
- God die Vader:-
(a) Hoor ons aan:
Heb. 4:16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon.
Fil. 4:6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en
smeking met danksegging aan God bekend
Ef. 6:18 Smeek God by elke geleentheid
(b) Ons nader God:- (Laat U Naam geheilig word)
Lofprysing:
Ps. 100 leer ons hoe om tot God te nader, dit is `n dankpsalm nie `n vra-psalm nie, kyk na die reëls.
Kom voor Hom met gejubel.
Gaan sy poorte binne met dankliedere.
Sy tempel met lof-gesange
Lofprysing gaan nie oor wat God vir my kan doen nie, maar ons eer God vir WIE HY is, vir geen ander rede as dat HY GOD is.
Is dit nie miskien hierdie deel wat in ons gebedslewe ontbreek om juigende, triomferende kinders van God te wees nie.
In 1 Kronieke 16 lees ons dat Dawid `n hele koor aangehou het net om God gedurig te loof. Iemand het gesê: God dors om na gedors te word.
Wanneer ons die tempel poorte binnegaan is Jesus daar want Hy is ons voorspraak by die Vader.
Intersessie gebed is om namens of vir iemand by God in te tree en daardie persoon se spesifieke behoefte na God te bring. Hier vind dus `n ontmoeting met God plaas namens die persoon wat jou met `n opdrag gestuur het.
Ons vind verskeie voorbeelde hiervan in die Bybel, hier is ‘n paar uit die Nuwe Testament:-
-Offisier wie se slaaf siek is stuur vriende om Jesus te roep.
-Jairus gaan namens sy siek dogtertjie.
-Die verlamde se vier vriende doen baie moeite, hulle laat hom deur die dak sak.
-Martha en Maria het `n vriend nodig gehad om namens hulle na Jesus te gaan.
Wanneer ons hierdie gevalle mooi lees sien ons dat dit nie sommer net `n vreemdeling was wat na Jesus gegaan het nie, die gestuurdes was:-
- Verantwoordelik
- Hulle het almal geweet waar om Jesus te kry.
- Hulle het die behoefte, die versoek aan Jesus oorgedra. ‘n Intersessor moet dus sorg dat hy/sy weet waar om Jesus te kry en verantwoordelik die boodskap by Hom aflewer.
Die wonderlikste van alles is dat Jesus na alle versoeke geluister het en daarop reageer het. Dade in die Hemel begin altyd wanneer ons op aarde bid, die goue wierook bakke met gebede vul.
Ps., 145:18 Die Here is naby die wat hom aanroep
Heb. 4:16 Kom ons gaan in vrymoedigheid na die Genadetroon
Jesus die Volmaakte Intersessor:-
In die Ou Testament lees ons dat die Priester & ook bv. Moses en Samuel as intersessors opgetree het.
Nou egter tree Christus vir ons in:-
Heb. 7:25. Daarom kan Hy (Jesus) ook die wat deur Hom na God gaan, eens en ver altyd verlos:
Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Engelse vertaling:- “Therefore He is able to save completely those who come to God, through Him because He always lives to intercede for them.”
Jesus tree dus op permanente basis vir die gelowiges in by God.
1 Tim 2:5 Daar is immers net een God en die Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.
Jesus is dus die finale tussenganger tussen die mens en God. Hy waarborg `n toegang tot die Vader. Wanneer ons voor die Troon kom is hy altyd daar, altyd gereed, altyd gewillig om ons aan die hand te vat en na die Vader te neem en aan hom voor te stel. Hierdie is baie belangrik omdat ons alleen tot God kan ingaan deur Jesus - Hy bemiddel vir ons- Vader hierdie kind kom in my naam na U – dus bemiddel Jesus vir ons wanneer ons in sy naam vra, nie op eie verdienste nie, maar op grond van die verlossing deur Jesus.
Ons hoef dus nie bang te wees om te bid, omdat ons nie duur geskenkpapier, linte en tooisel het om ons gebedspakkie op te maak nie. Ons neem dit net so ontoegedraai en eenvoudig na God. Hy ontvang liewers so `n pakkie van ons wat met liefde na Hom gebring word, as geen gebedspakkie nie omdat ons bang is ons gebed is nie opgetof genoeg nie.
Krag van gebed is nie in die bidder nie, maar in die Hoorder.
(Bron: Krag van gebed, Dutch Sheets)