Klink dit vir jou bekend? As jy en jou man gereeld vassit oor wie wat wanneer gesê het, is dit dalk tyd dat julle die geheim vir ’n gesels huwelik ontdek.
Elke nou en dan het ek en my vrou, een van ons woordgevegte. Ek dink dit gebeur baie gereeld in min of meer elke huis! Sy sal my aanhaal oor iets wat ek gesê het. Gewoonlik ontstel dit my en sal ek iets vir haar terugsê soos: “Jy luister glad nie na wat ek sê nie. Jy hoor net wat jy wil.” As sy dan probeer verduidelik hoekom sy my só gehoor het, sal ek haar onderbreek met: “Maar ek het dan presies vir jou gesê wat ek wou sê!”
Dit is omdat ek op daardie oomblik oortuig is dat die manier waarop ek gepraat het, presies verduidelik het wat ek wou sê. Daarom het ek maar net aanvaar sy verstaan wat ek bedoel.
Daar was vier verkeerde aannames wat ek gemaak het terwyl ek met my vrou gesels het.
Die eerste een is dat ek gedink het woorde beteken dieselfde vir mans as vir vroue. Ek het gedink dat sy dieselfde betekenis aan woorde heg as ek. As ek byvoorbeeld sou sê dat iets my ontstel, beteken dit dat ek effens ongemaklik is met wat gebeur het. Vir haar beteken ontstel eerder kwaad of woedend.
Verder het woorde emosies. Dink maar net aan die verskillende emosies wat woorde soos Bulls en Stormers opwek. Vir ’n Blou Bul-ondersteuner is Stormers ’n slegte woord, maar vir ’n Kapenaar is dit ’n woord om op trots te wees. As jy bloot aanneem dat jy en jou man dieselfde emosies in ’n woord lees, gaan julle mekaar altyd verkeerd verstaan.
Ek het ook regtig gedink vroue kan gedagtes lees! Ek het aangeneem dat my vrou presies weet wat deur my kop gaan voordat ek met haar gesels. Maar omdat sy nie gedagtes kan lees nie, kan sy dit wat ek sê, nie binne konteks hoor nie.
En die laaste fout is om te dink woorde is genoeg. Ek kleur my woorde in met gebare, die trek van my mond, my stemtoon en die kyk in my oë. Onthou, woorde is nie altyd genoeg nie, jou lyf gesels alte lekker saam met wat jy nie sê nie.
Gelukkig is daar eenvoudige riglyne wat kan help dat geselstyd jou huwelik sterker maak.
Wees eerlik oor wat jy sê. Jy sal altyd glo jy kan baie goed kommunikeer en daarom sal jy seker wees die probleem lê by jou man. Wanneer jy egter eerlik is oor hoe jy woorde gebruik en watter woorde jy gebruik, sal jy dalk agterkom dat wat jy sê en wat jy bedoel, soms nie so duidelik is nie.
Onthou jou man verstaan woorde anders. Dit is maar net so dat jou man ander emosies aan woorde heg en die betekenis van sommige woorde dalk nie eers ken nie. As jy sensitief is vir hoe hy op jou woorde reageer, sal jy gou agterkom watter woorde hy verstaan en watter nie. Op dié manier leer jy om jouself beter te verduidelik.
Jou lyf gesels saam met jou mond. Wanneer jy ’n woord soos “my engel” en “skat” gebruik, maar jou arms is gevou en jy het ’n diep frons op jou voorkop, weet jou man dat hy beslis nie jou engel is nie. Let volgende keer ’n bietjie op: Jy sal sien, sodra jy gespanne raak of ernstig oor jou standpunt voel, is die kans goed dat jou lyftaal jou woorde verdraai.
Iemand het gesê: “Ek kan nooit hoor wat jy sê nie. Ek kan net hoor wat ek dink jy sê.” As jy begin agterkom dat jou woorde net ’n opsomming is van wat in jou gedagtes omgaan, sal jy met groter geduld en sagtheid jou man kan help om jou woorde te verstaan.
Kan iemand asseblief my man se kop kom lees?
Daar is hierdie een enkele ding wat jou man wil hê jy van hom moet verstaan – selfs al sukkel hy self om dit te begryp of te verwoord.
In die verlede was die rolle duidelik afgebaken – die man was die voorsiener en die vrou was die versorger. Maar die samelewing het oor die laaste paar dekades radikaal verander en dit het daartoe gelei dat mans en vroue nuwe rolle moes vind. By die meeste mans is daar ’n innerlike konflik tussen die beeld wat hy aan die wêreld voorhou en sy innerlike behoeftes. Ons mans glo ons moet in beheer wees, sorg dat die lewe reg loop vir onsself en ons gesin. Dis die rol wat ons glo ons moet vervul. En ons sal dikwels voorgee dat ons die beste weet, selfs al is dit net om onsself te oortuig dat ons “oukei” is.
Maar eintlik het mans ’n diepgewortelde vrees dat hulle nie “oukei” is nie – ’n ingeboude onsekerheid wat in elke man se hart lê. Dis juis hierdie onsekerheid wat maak dat ons ’n chroniese behoefte aan erkenning en bewondering het. Ons het iemand nodig om ons te verseker dat ons “oukei” is, dat ons oulik is, dat ons goed genoeg is.
Wanneer jy jou man minderwaardig laat voel deur hom te kritiseer, beterweterig te wees, sy besluite te bevraagteken, ensovoorts, laat dit hom onttrek. Jou man het ’n behoefte aan erkenning en bewondering. Hy wil graag hê jy moet verstaan dat hy daarna smag.
Ek weet dis moeilik vir jou om te verstaan. Jy dink immers jou man is die sterk een, in beheer, en die planmaker. Die samelewing plaas ook soveel klem op jou regte en plek dat jy maklik kan begin glo jy het die reg om jou behoeftes te bevredig, sonder om ooit te wonder wat hy nodig het.
Dalk kla jy ook soos ander vroue: “Hy gee nie ’n flenter om vir my behoeftes nie. Hoekom sal ek nou “worry” om hom gelukkig te wil maak?” Jy kyk mos maar vanuit jou eie behoeftes na ’n verhouding: Hoe maak dit mý gelukkig? Hoe voorsien dit in mý behoeftes? Jy wil eerder ontvang. Sodra daar ’n inset van jou verwag word, raak dit moeiliker.
Eintlik wil jy nie regtig weet wat jou man se behoeftes is en hoe jy daarin kan voorsien nie. En selfs al wil jy hom die erkenning gee waarna hy so smag, gee jy vanuit jou eie verwysingsraamwerk. Maar dit is nie noodwendig wat jou maat nodig het nie. Al manier hoe jy die regte insette kan lewer, is as jy regtig jou maat verstaan. Om dit reg te kry, moet jy afsien van jou selfgerigtheid.
Jy moet uit jou lewe uitstap en in jou maat s’n instap. Maar dan moet jy na hom luister – nie net na sy woorde nie, maar ook na sy nie-verbale leidrade. Jy moet as’t ware ’n speurder word wat leidrade opvolg oor wat hom beter oor homself sal laat voel. Wat is die goed wat hom negatief laat voel omdat hy dit as negatief in homself beleef?
Jy kan ook reguit vir hom die volgende drie vrae vra: Voel jy dat ek jou genoeg erkenning gee? Hoe kan ek dit meer of beter doen? Op watter maniere moet ek vir jou erkenning gee sodat jy dit as positief beleef? Gewapen met hierdie kennis kan jy dan begin om in jou maat se ego-behoeftes te voorsien. Glo my, jy sal dadelik die verandering in sy houding teenoor jou sien, en dit sal die verhouding verbeter. Op die ou einde sal dit dus ook voordele vir jou inhou!
(Skrywer onbekend)
"Wat ’n voorreg, wat ’n onuitspreeklike voorreg, om op jou gemak en veilig by iemand te voel: sonder die nodigheid om jou gedagtes te weeg of jou woorde te tel, maar net jou hart oop te maak en alles te sê; net soos dit by jou opkom – die koring en die kaf – met die wete dat ’n troue hand dit sal sif, sal behou wat die moeite werd is en die res genadiglik sal wegblaas."
George Elliot (1819 – 1880)