Oeps, Here, wat 'n taai toffee!
Kyk, ek sukkel met baie goed, maar hier sukkel ek dalk die meeste.
Vat nou maar my tong. 'n Klein roertjie wat 'n groot skip stuur. 'n Klein vuurtjie wat 'n groot bos brandsteek. 'n Klein bietjie gif wat 'n groot dood in hom dra!
As ek dit net kan regkry om hom in toom te hou. Om net te sê wat nodig en opbouend en goed is. Om liewer stil te bly wanneer ek buite beheer grimmig en grommerig is.
Of wanneer ek sommer net onnodige twak praat.
Soms doen ek skade en ek weet dit nie eers nie!
"Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou." Jak 3:2
Maar dis net daar waar die ding lê, Here. Ek is nie by magte nie.
Ek het dit nie in my om myself heeltyd perfek te beheer nie. Ek is swak en struikelend.
Ek sukkel nie net met my tong nie, maar met my hele ek – kop, lyf, die lot!
Vir rukkies, as ek hard konsentreer en 'n byna bo-menslike poging aanwend, gaan dit OK. Maar nes ek weer begin ontspan, en "myself raak",
vlam al die verwoestende halfgebluste brande weer op.
Ek leef selfgesentreerd en onbedagsaam.
Ek raak onnodig geïrriteerd met mense. En partykeer steek ek dit nie eers weg nie.
Ek vergeet om te bid. Of ek begin en hou, sonder dat ek dit eers agterkom, weer op.
Ek mors tyd en water en geld. En geleenthede. En liefde.
Ek mors groot stukke van my lewe deur te veel te worry oor onbenullighede, te min te huil oor die werklik tragiese, en te min te lag omdat ek die vreugde van die klein alledaagsheidtjies miskyk.
Ek laat myself te dikwels beheer deur ander mense se knorrigheid of gejaagdheid.
En nog baie meer dikwels deur my eie... Ag, wat help dit ek sit en noem vir U lysies goed op? U weet so goed soos ek dis net die ore van die seekoei. U weet dat dit baie dieper slaan as blote gewoontetjies of gedragspatrone en oor hoe om dit met selfbeheersing se korset te probeer begrens. U weet, en ek weet, hoe dikwels my sondige self in konflik leef met u Gees en dat ek telkens my eie donker kant kies en nie U lig nie.
Dis so eenvoudig en so moeilik soos dit is!
U weet ook dat om myself net strenger in te perk nie 'n blywende oplossing bied nie.
Here, my Redder, sal U my asseblief meer en meer deur U Gees beheer? Dat selfbeheer 'n Geesvrug word eerder as 'n straightjacket. Dis net dat "beheer" so 'n on-lekker woord is, want, met U Gees, ervaar ek myself nie soos 'n puppet on a string wat gevoel- en willoos net reageer wanneer U, beherend, die toutjies trek nie. Nee, ek voel eerder soos 'n kind wat gehelp word. Of 'n blinde wat gelei word. Of 'n arend wat sonder weerstand die lok van 'n lugstroom volg. Daar's nie dwang nie. Wel afhanklikheid ja, maar nie dwang nie. Eerder vertroue en vryheid.
Ek wil, by herhaling, my hart in U hande sit en vra:
Help my om my beste self te wees. My volwaardige self. Wat U beeld dra.
Bewaar my, temper my, kalmeer my, fluister gedurig U waardes in my gewete in.
En lig my keer op keer met U sagte krag na 'n hoër vlak van beheerde vryheid.