Mark 15:1–47
Voor en met Paasfees praat ons baie oor Jesus se kruisiging en sterwe vir ons ter wille van ons verlossing. Vraag: Wie is hierdie Jesus? Dis ʼn vraag wat dikwels tydens sy verhoor en selfs toe Hy aan die kruis gehang het, gevra is. Talle mense het Hom as die “Wonderwerker” gesien. Sy grootheid lê nie alleen in die Goddelike krag om wonderwerke te doen nie, maar ook in Sy gewilligheid om tot Sy dood aan die kruis diensbaar te wees. Jesus se lewe het bestaan uit ʼn wipplank tussen hierdie twee fasette: wonderwerke en kruisiging – alleen wanneer ons dit begryp, kan ons iets verstaan van die Persoon van Jesus.
In die Evangelies vind ons dikwels, dat wanneer Jesus iemand gesond gemaak het, Hy ’n opdrag aan die persoon gee: ”moet dit vir niemand vertel nie.” Die opdrag kom ook voor wanneer Jesus ’n wonderwerk gedoen het. Hierdie opdrag word gegee omdat die wonderwerke net een deel van Sy werk was en Jesus nie wou hê dat ’n halwe, eensydige beeld, ’n halwe waarheid, oor Hom verkondig word nie.
Die mense sukkel om te verstaan wie Jesus werklik is.
- Die Jode soek iemand wie hulle van die Romeine kan bevry.
- Die dissipels vra elke nou en dan wie Hy is.
- Wanneer die skare mense Hom begroet met palmtakke, roep hulle Hom toe: “Koning van die Jode.”
- Wanneer Jesus voor Pilatus verskyn, dan vra Pilatus Hom: “Is jy die koning van die Jode.?” (Die waarheid wat die Jode nie wou hoor nie.)
- Wanneer ’n ander groep Jode in Jerusalem Hom daar voor Pilatus sien staan, skree hulle: “Kruisig Hom” en noem Hom ’n Godslasteraar.
- Die Priesterhoofde en skrifgeleerdes noem Hom ’n vraat en ’n wynsuiper.
- Die twee moordenaars aan die kruise langs Jesus, het twee verskillende sienings van Wie Hy is.
- Wanneer die offisier van die soldate Hom sien sterf, dan roep Hy uit: “Waarlik hierdie man was die Seun van God!”
Die Evangelie van Markus wil vir jou en my vandag die vraag vra: “En Jy? Wie sê jy is Jesus?”, of anders gestel: “Wie is Jesus vir jou persoonlik?”
Het Hy bestaan, was daar Iemand soos Jesus? In die OT is daar ± 330 voorspellings oor Jesus gemaak. Sommige van die voorspellings het 1500 jaar nadat dit gemaak is deur die profeet, eers bewaarheid geword, maar dit het alles in Jesus bewaarheid geword. As Hy nie die Seun van God is nie, as Hy nie die Verlosser is wat in die OT voorspel is nie, dan moes Hy ongelooflik goed toneel gespeel het. (ʼn Oscar vir Jesus?)
Wie is Jesus vir jou?
- ’n Naam in ’n boek, die Bybel?
- Iemand daar ver terug in die geskiedenis?
- ’n Goeie toneelspeler?
- Die Wonder werker?
- Die Messias, die Verlosser, wat voorspel is?
- Ja, wel die Messias, maar dan iemand anders se Messias / Verlosser?
Om werklik te weet wie Jesus vir jou is, moet jy besef dat jy die antwoord nie uit boeke, selfs nie uit die Bybel sal kry nie. Om die antwoord hierop te kry, vra dat jy in ’n verhouding met Hom moet staan.
Ons moet ook die vraag vra: “Hoekom het Jesus so gesterwe – ter wille van wie?”
- Was dit ter wille van die eer van God se Naam?
- Was dit vir die redding van mense?
- Was dit om mense se lewens te verander, soos die soldaat, Nikodemus, dissipels, ons?
- Hoe moet ons lewens verander?
Terwyl Jesus daar op Golgota aan die kruis gehang het, het Hy twee mense se lewens onherroeplik verander:
Die een moordenaar het Hom bly spot en niks vir Hom gevoel nie; die ander een het sy sonde erken, en tot geloof gekom. Hierdie moordenaar het iemand se lewe geneem, maar noudat Jesus vir Hom die Verlosser geword het, het hy die lewe – die ewige lewe geneem / gekry.
Na die 3 uur van duisternis, roep Jesus (in Aramees) na God met die woorde uit Ps 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit. Twee dinge gebeur:
- Die voorhangsel van die tempel tussen die Allerheiligste en die Heilige skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra dat die tempel se einde gekom het. Jesus het self vir die mense geleer dat Hy die tempel (vergaderplek van die mense word). Die toegang tot God is nou vir alle mense oop. (Hebr 9)
- Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra dat Jesus se dood reeds vir almal – ook heidene – betekenis het.
Hierdie offisier, het ure tevore nog hierdie onbekende oproepmaker van Galilea gemartel en moes nou toesien dat Hy gekruisig word en dat Hy saam met die ander sterf. Toe hy die spies in Jesus se sy indruk om seker te maak dat Hy dood is, was dit nie net die spies in sy hand wat in Jesus se liggaam ingegaan het nie – Jesus het in Sy lewe ingekom. Hy het daar voor sy wilde Romeinse soldate vriende en die ander Joodse omstanders sonder vrees uitgeroep: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Dit was Jesus se dood, wat die offisier oortuig dat dit H y, Jesus, God is.
Daarmee word die klimaks van Markus se verhaal bereik. Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ʼn heidense Romeinse offisier dit (15:39).
In Joh 12:20-23 lees ons van die Grieke wat vir Jesus wil sien en Jesus wat sê dat die tyd gekom het dat die Seun van die mens verheerlik moet word; dat die koringkorrel in die grond moet val om vrugte te dra. Hier in Markus lees ons van die vrug van Jesus se “val in die grond” en die oes wat ingebring word.
Hier is die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het:
- “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: (Luk 23:34)
- “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: (Luk 23:43)
- “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: (Joh 19:25-27)
- “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: (Mat 27:46)
- “Ek is dors”: (Joh 19:28)
- “Dit is volbring!”: (Joh 19:30)
- “Vader, in U hande gee Ek my gees oor”: (Luk 23:46)
Pilatus het die waarheid rondom Jesus ingesien, (Mark 15:1-5) maar hy het nie daarvolgens gehandel / gelewe nie .... en ons?
Uit vrees vir mense, gee hy hulle hul sin, hy laat vir Barabbas los (Mark 15:6-11) .... en ons?
Dit is die wonder van die Markus evangelie en dan veral van Markus 15. Daar word baie sienings oor wie Jesus was, weergegee. Aan die einde van alles moet jy en ek self ’n besluit neem.
Voor Jesus se kruisiging herdenk word, kom vra die Woord van die Here vir elkeen van ons: “Wie is Jesus vir jou?”