Wat is Epifanie?
Die fokus van dié seisoen is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons.
Dit wentel rondom die epifaniefees, wat die eerste keer op 'n Sondag gevier is en al van die tweede eeu af op 6 Januarie gevier word.
In dié fees gaan dit oor die "verskyning" of "Godsverskyning" en die naam word herlei van die Latynse Epiphanie (of Theophanie) vanuit die Griekse “epiphaneia” en “theophaneia”, wat op God se verskyning / manifestasie, in Jesus dui.
Aanvanklik is Jesus se geboorte en sy doop met die fees gevier. Later is die besoek van die wyse manne en Jesus se eerste wonderwerk (te Kana) ook bygebring. In die sewende eeu het 'n misdiens vir die jaarbegin gebruiklik geraak. Tydens dié fees is Christus as die Heer van die tyd verkondig. Gedurende die dertiende eeu het Rome die gebruik om Jesus se naamgewing en besnydenis, wat in Spanje en Frankryk op 6 Januarie gevier is, oorgeneem en op die nuwejaarsdag begin vier.
In die tyd ná Epifanie is die fokus Jesus se vroeëre bediening en sy leer. Die seisoen eindig op Vasdinsdag.
Dit is die dag voor Aswoensdag, wanneer Lydenstyd begin.
Op dié dag is tradisioneel pannekoek gebak met die vet, suiker en ander kosse (in besonder vleis) waarvan ontslae geraak moes word voor die aanbreek van die vastyd.
Hierdie gebruik het gelei tot groot vieringe, soos die bekende Mardi Gras wat vandag nog in Suid-Amerika gevier word.
Omdat God se teenwoordigheid op unieke wyse in en deur Jesus manifesteer, kan Nuwejaar (met die proklamasie dat Christus Heer van die tyd is én die Naamgewing) ook as deel van Epifanietyd beskou word.
Die motief van Jesus se identiteit, wat dáár ingelei word, word by sy doop (Epifanie) deur die stem uit die hemel (Mark 1:11) voortgesit en versterk. Dit gebeur wéér deur 'n stem van bo op die berg (Verheerlikingsondag) (Mark 9:7).
Epifanie verkondig dat God híér is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Hulle word so diep daardeur geraak dat dit daarna hulle identiteit bepaal en dat hulle ook bereid raak om aanpassings te maak en vir hulle geloof te ly.
Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit dáár te laat vorm. God is ook op onverwagse plekke teenwoordig en ons kan aanleer om God buite ons eie kring raak te sien. Ons oë en ore moet oop wees vir eietydse simbole van God se teenwoordigheid in ons midde. God se lig het in 'n donker wêreld kom skyn. Dit kan nie uitgedoof word nie en dit begelei ons op ons lewenspad (sien bv 1 Joh 1:6 en Joh 1:4-5). God praat en ons leef luisterryk. Ons het tyd nodig om in stilte by Hom te rus. Ons kan ons stemme voor Hom verloor en soos kinders steeds bly leer. Epifanietyd gee ons ‘n oor vir sy hartklop aan ons deur.
Inskrywings in Epifanie
- Nuwejaarsfees (Op 1 Januarie)
- Epifaniefees (Op 6 Januarie of die Sondag wat die naaste daaraan val)
- Verheerlikingsondag (Jesus se verheerliking op die berg)
- Vasdinsdag
Gebruike, simbole en kleure in Epifanie
Met die bediening van die doop (met Epifanie of die Sondag die naaste daaraan) word klem gelê op die inisiatief wat God in die verlossing neem en word uitgelig dat God teenwoordig is waar in sy Naam opgetree word.
Met nagmaal (op Verheerlikingsondag) kan die brood en wyn aangegee word met die woorde "Ons is gedoop", "God is hier teenwoordig", of "God se lig skyn deur ons".
In aansluiting by die motief van lig, kan 'n ster en ('n) kers(e) as simbool van lig in duisternis gebruik word. Die ster van Betlehem (vyfpuntig met 'n glans daar rondom) is 'n bekende simbool in hierdie tyd.
Met Epifanie en op Verheerlikingsondag is die kleur wit of wit en goud (om die geskenke wat die wyse manne gebring het en Gods heerlikheid uit te beeld).
Tussendeur kan groen gebruik word om die groei in die kerk se uitreik in die wêreld in te simboliseer.
Dink ook aan maniere waarop ook die motiewe in die Bybel simbolies benut kan word:
Jakob se leer (Gen 35:1-10), die brandende bos (Eks 3:1-14), die wolk- en vuurkolom (Eks 13 en 14) voetspore in (woestyn)sand
(Eks 14 en 15), 'n tempel (Ef 2:19-22), 'n boom by 'n waterstroom en klippe (Matteus 3:7-12) en 'n geslagsregister met oop spasies (Heb 11).
Wees kreatief hiermee!