Besem "Manager"
'n Ware verhaal daar vanuit Bethlehem , Vrystaat, se wêreld...
Ek kom vanoggend so 7-15vm by die werk en sluit die werkswinkel oop en dank God vir die werkswinkel, gesondheid en omdat ek Sy vrede en vreugde ervaar. Die eerste kliënt kom vinnig nader en klim uit sy motor met 'n koppie Wimpy koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie van ouds nie. 'n Ander persoon wat ek ken kom van die slaghuis af opgestap met 'n pakkie vleis en al kouende aan sy biltong grom groet hy so asof dit 'n stryd is om te lewe. Ek besluit vandag wil ek luister en ek het goed geluister - nou is dit 6-00nm en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien en ervaar het - ouens met baie geld kla oor pryse is te hoog, die biltong man sê daar is amper geen vleis op die rakke nie - die ander ou kla oor ou brood en 'n ander oor 'n koue hamburger. My suster vra my nou net om 'n CD te toets en kom agter haar CD speler sal moet skoongemaak word en in Knysna vra hulle R80-00 - nee, sy kan dit nie doen nie want sy het nie geld nie.
Ek vertel jou kortliks wat ek vanoggend gesien en ervaar het. Die mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te doen gehad het kon sien en ervaar wat ek vroeg oggend gesien het - ek wonder waaroor hulle dan sou kla - die een ou kla nog sy hamburger is koud en hy voel lus en gaan druk dit ......... in Steers se bestuurder se ........... op. Ek wil iets sê maar my oog vang iemand wat by die slaghuis se asblikke instap, 'n maar en baie ou kleurling, die aval van die slaghuis lê nou al en gis van Vrydag af en dit het 'n taamlike reuk. Die baie ou kleurling krap tussen die sakke en ek hou hom dop want vandag wil ek sien hoe hy te werk gaan en wat hy besig is om te doen. Hy tel iets op wat soos 'n stuk ou dik bloed of dit kan dalk 'n ou stuk lewer wees - hy ruik daaraan en vat 'n groot hap en sluk dit sonder om te kou - toe hy die tweede hap vat van daardie bloederige pappery besigheid voel dit vir my ek wil opgooi - ek sluk aan my naargeid en stap na hom - more ou man, sê my, wat is jou naam - my naam is Abraham my lanie - nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot vleis ou Abraham - ek is honger my lanie - maar ou Abraham, die goed is vrot - ek weet my lanie maar die Jere het nog nie vandag vir my afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my - ou Abraham, hoekom vra jy nie as jy iets wil koop om te eet nie - ek het my lanie maar daardie man, en hy wys na die biltong eter, hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voetsek - ou Abraham vee oor sy mondhoeke om dit te probeer skoon kry van die ou bloed.
Ek bekyk ou Abraham en wonder hoe ou is hy. Hoe oud is jy Abraham - 78 my lanie - waar bly jy Abraham - daar bo teen die berg (dis 8Km) - en jou mense ou Abraham ??
Net my vrou bly by my mar sy bene kan nie meer werk nie nou kan sy nie uit die huis nie - kry jy ou mens pension Abraham - nee my lanie nog nie maar Mandela sal nog plan maak so ek wag maar vir hom - Abraham se broek is nie meer 'n broek nie - sy skoene het nie sole nie - iets aan sy lyf wat dalk lank terug 'n hemp kon gewees het - Ek vra in my binneste - Here, wat nou maar ek kry geen antwoord nie, ek hoor niks.
Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet nie - ja my lanie - die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy jare lank al probeer om naby hom te sien - die vullis wa trek in om die vullis te verwyder en die manne verskreeu ou Abraham. Waarnatoe gaan jy nou ou Abraham - ek gaan brood soek om huis toe te vat my lanie - ek het klaar 'n kannetjie vir die water. Ou Abraham het 'n glimlag om sy geplooide mond - as my lanie wil kan ek 'n besem bestuur en die plek mooi skoon vee (ek dink by myself, "is dit nou U wat deur Abraham praat") Ou Abraham, is jy seker jy het 'n liksens om die besem te bestuur - ja my lanie, my vrou het dit vir my gagee toe sy bene siek geword het - is goed so Abraham, die mense jaag jou oral maar vandag het die Here jou 'n groot werk gegee - jy is van vandag af die general manager van die besems, jy is die baas van die besems, hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek van water, 'n maneger moet ook mooi skoon aantrek en 'n geldjie hê vir die ou vrou by die huis, ek sien jy is 'n man wat ons nog baie in die toekoms kan leer oor die lewe ou Abraham - moet ek elke dag inkom my lanie - ja Abraham want Vrydae moet jy 'n lekker Wimpy ontbyt eet maar besem managers werk net van 8 - 11 want besem manegers het tyd nodig vir hulle siek vrouens - is reg so my lanie, ek sien nou die Jere het 'n ander plan gahad vadag en ampor dink ek Hy het my en die ou vrou vageet, jammer Jere omdat ou Abraham nie reg vastaan het nie.
Ek is die Here my God so dankbaar vir iemand wat nie oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie, iemand wat oor koue hamburgers en koffie kla nie. Ek is my Vader so dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie.
Doen my, jouself en ander 'n guns - probeer net een dag niks kla nie want ou Abraham was vandag vir my so 'n groot inspirasie terwyl hy ou bloed uit sy mondhoeke gevee het maar nog steeds glimlag die 78 jarige half blinde man met toiings aan sy lyf. En ek sê met trots - vandag het ek 'n waardige, my beste ooit, besem bestuurder gekry, jy moet dit sien om te glo, hy vee bo oor die vuilis en sien dit nie raak nie maar vee vee hy - die Here is vir ons so goed en as ek voel dit druk kyk ek na my besem bestuurder ek weet - ek het niks om oor te kla nie.
"Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here ." (Klaagl 3:25-26)
- Bron onbekend -